Burgerlike samelewings-diensorganisasie

Wat om van ons te verwag

  • Ons sal ons funksies uitvoer in lyn met die letter en gees van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika.
  • Ons is verbind tot ‘n Suid-Afrika waar daar voedsel- en veselsekerheid heers.
  • Ons beskou integriteit, deursigtigheid en inklusiwiteit as kernbeginsels in die uitvoering van ons mandaat. Ons glo in gesonde korporatiewe beheer wat lei tot apolitiese en etiese praktyk in alle opsigte.
  • Ons streef ten alle tye daarna om die winsgewendheid van alle landbou-ondernemings in Suid-Afrika te verbeter ten einde boere op hul grond te hou en te verseker dat gehalte voedsel teen bekostigbare pryse geproduseer word en toeganklik is vir alle landsburgers.
  • Ons bevorder die langtermyn, volhoubare gebruik van natuurlike en ander hulpbronne en gee om vir die omgewing.
  • Ons bevorder respek vir menswaardigheid, maatskaplike geregtigheid en gelykheid in alle aspekte, insluitend ras en geslag, asook vryheid van assosiasie.

Die volgende beginsels word onderskryf en moet deur ons almal uitgeleef en toegepas moet word:

  • Trots: om die beste te lewer
  • Deursettingsvermoë: raak nie moeg nie en sien elke bedreiging eerder as ‘n uitdaging.
  • Lojaliteit: samewerking; praat met mekaar; samehorigheid; beskerm mekaar.
  • Vertroue: Ons vertrou mekaar en is bereid om onsself bloot te stel aan ons groepering sonder die vrees vir verwerping of verkleinering.
  • Waardering en erkenning: ons sê “Dankie”.
  • Ons erken ons foute: maak regstellings en vra om verskoning.
  • Geloofsoortuiging: erkentenis aan die Skepper; dankbaar vir wat Hy ons elke dag gee; die Bybel is die meetinstrument.
  • Uniek: skeppende denke word ontwikkel; Kreatiwiteit word toegepas.
  • Strewe na voortreflikheid: weetgierigheid word aangewakker.
  • Deursigtigheid: in dit wat ons doen.
  • Wedersydse Respek: word toegepas in alle situasies.
  • Eerlikheid: met almal.
  • Geloofwaardigheid: altyd bo verdenking en betroubaar.
  • Diensbaarheid: hoogstaande gehalte van dienslewering; voldoen aan verwagtinge.
  • Sukses: gereelde meting.
  • Satisfaksie: deur die bereiking van doelwitte en hoë moreel.
  • Selfoortuiging: selfrespek; leef dit uit waarvoor ons staan.
  • Voorbeeldigheid: deelnemende bestuur.
  • Verantwoordelikheid: aanvaarding van eienaarskap; snel reaksie; oplossingsgedrewe; beskerming van eie bates.
  • Sin van dringendheid: gebaseer op toekomsgerigtheid.
  • Standvastigheid: beginsel vas, taakgerig, gefokus.
  • Begrip: empatie; oplossings gedrewe.
  • Humor: Ons skerts en geniet gepaste grappe.

Agri NW moet deur die toepassing van die ooreengekome beginsels en norme verseker dat ‘n gewenste organisasie kultuur gevestig en in stand gehou word om as kritiese vereiste vir die bereiking van ons Missie te dien.

Ons word saamgesnoer deur gemeenskaplike beginsels soos verwoord in ons Visie en Missie. Hierdie beginsels kan deur ons as lede in wese onderskryf word, maar word eers ‘n werklikheid wanneer elke beginsel uitgeleef word in die wyse waarop ons optree en in die wyse waarop ons aandring dat ons mede lede insgelyks dieselfde doen.

Die praktiese toepassing is deurslaggewend, bv. ons optrede teenoor mekaar moet soos volg daaruit sien:

  • Ons luister met empatie na mekaar.
  • Ons wend eers ‘n daadwerklike poging aan om die ander party se standpunt te verstaan voordat ons oordeel.
  • Ons verskil openlik met mekaar maar toon steeds begrip vir mekaar. Daarom word konstruktiewe konflik nie vermy nie maar eerder aangemoedig om oplossings te vind.
  • Besluitneming geskied in ooreenstemming met die Visie en Missie van Agri NW.
  • Ons aanvaar verantwoordelikheid teenoor mekaar en respekteer mekaar.
  • Dit wat ons gesamentlik ontwikkel neem ons gesamentlik eienaarskap voor en dra dit gesamentlik uit.
  • Ons verklaar ons bereid tot vernuwende en skeppende denke.
  • Ons is bereid om berekende risiko’s te neem en dit dan logies te bestuur.
  • Ons beoordeel en meet ons gedrag en optrede deurlopend aan die hand van ons beginsels en norme om die aanvaarbaarheid en wenslikheid daarvan te bepaal.

Ten slotte

Die resultaat van die toepassing van hierdie beginsels en norme gee aanleiding tot die ontwikkeling en uitbouing van die wenslike organisasie kultuur. Hierdie organisasie kultuur met ‘n klimaat geskep deur ‘n opbouende leierskapstyl gee aanleiding tot die verlangde karakter van die organisasie.