Burgerlike samelewings-diensorganisasie

Bankvas agter jou en jou boerdery

Vir 'n landbousektor om te floreer word organisasies benodig wat sy produsente met passie en toewyding diens. Agri NW is die onmisbare spreekbuis in diens van die landbouer wat beleidsvorming, wetgewing en regulasies monitor en beïnvloed en seker maak dit is in die sektor en sy lede se beste belang.

Waarom is 'n struktuur soos Agri NW nodig en watter waarde het so 'n struktuur?

  • Agri NW se einddoel is 'n stabiele landbou-omgewing wat optimale produksie handhaaf, selfs gedurende uitdagende omstandighede. Daarvoor versterk die organisasie sy produsente se hande om optimaal en kompeterend te kan produseer.
  • Die organisasie beskik oor 'n uitgebreide netwerkkapasiteit waardeur steunwerwing en skakeling plaasvind.
  • Agri NW is 'n onmisbare spreekbuis in diens van die landbouer en funksioneer deur onder andere met belanghebbende rolspelers te skakel. Sodoende word steun gewerf vir Agri SA se landboubeleidsstandpunte en beginsels
  • Die organisasie se kundigheid, strukture en vennootskappe word pro-aktief benut.
  • Leiding word deur middel van prosedures, riglyne en planne aan produsente verskaf. Dít is voortspruitend uit die werksaamhede van die spesialiteitskomitees om hedendaagse vraagstukke direk van toepassing op produsente op plaasvlak te kan hanteer soos byvoorbeeld:
    • Agri SA se protokol vir toegang tot plase
    • Onwettige besetting van grond
    • Onregmatige arrestasie van produsente
    • Arbeidsonrus en stakings
    • Dieselrabat
    • Prosedure vir hanteer van aansoeke vir prospekteer- en mynboulisensies.

Hoe gaan 'n organisasie soos Agri NW te werk?

  • Gespreksvoering en beïnvloeding vind plaas met die Noordwes Premier, LUR'e, Departementshoofde en amptenare asook relevante komitees van die onderskeie regeringsdepartemente.
  • Interaksie vind plaas op 'n konstruktiewe maar kritiese en besliste wyse, gerig op probleemoplossing.
  • Agri NW skakel met die verteenwoordigers van distriks- en plaaslike munisipaliteite om produsente se belange te beskerm en te bevorder.
  • Beleidsvorming, wetgewing en regulasies, asook die toepassing en impak daarvan op die landboubedryf word deurlopend gemonitor en beïnvloed.

Hoe is Agri NW aanmekaar gesit?

  • Agri NW is geaffilieer by Agri SA en het sitting op die organisasie se algemene raad, waar sake van gemeenskaplike belang op nasionale grondslag hanteer word.
  • Die organisasie se hoogste gesag is gesetel in sy jaarkongres en die algemene raad bestaan uit afgevaardigdes van die geaffilieerde landbouverenigings wat regoor die Noordwes provinsie werksaam is.
  • Die spesialiteitskomitees, wat 'n groot rol in beleidvorming, wetgewing en regulasies speel, bestaan uit kundige verteenwoordigers verkies deur landbouverenigings. Die komitees funksioneer op 'n provinsiale vlak onder die leiding van Agri NW.

Ons vennote