Agri NW Jongboerkomitee se pas afgelope Jongboerkonferensie in samewerking met NWK Beperk, hoofborg van die konferensie, was 'n suksesvol nieteenstaande die onluste wat 'n invloed gehad het op die bywoning as gevolg van die toegangsprobleme wat ondervind is tot die dorp! Die tema van die Konferensie: “Strategie van Jongboer na Megaboer”, het groot inslag by jong boere gevind.
Die konferensie wat plaasgevind het op Vrydag, 21 April 2017 te NWK Opleidingsentrum, Lichtenburg is bygewoon deur jong boere, mediaverteenwoordigers en onderskeie borge van die konferensie. Die konferensie is toegespreek deur ervare en kundige persone wat elk 'n kortlikse oorsig gegee het van die deurslaggewende faktore wat boerderyondernemings suksesvol kan uitbrei.
Deon Bergh voormalige voorsitter van die Jongboerkomitee het in sy voorlegging vir 'n suksesstrategie van jong boer na megaboer gesê dat erflating 'n voorreg is en nie 'n reg nie. Bergh het gesê dat elke jong boer homself moet afvra wat is die lig wat hy/sy na die boerderybesigheid gebring het'n Michael van Rooyen, hoof landbou ekonoom van NWK Beperk het in sy voorlegging rondom 'n finansiële strategie vir jou boerdery gesê dat beplanning en 'n begroting van kardinale belang is en dat skuld goed bestuur moet word.
Hy het ook verder gesê dat boere daarteen moet waak om te stagneer. Professor Ferdi Meyer, direkteur van die Bureau for Food and Agricultural Policy (BFAP) het konferensiegangers gewys op die strategiese geleenthede in markte vir die toekoms. Jong boere is ongetwyfeld geïnspireer om nog beter te presteer in hul ondernemings met sy toekomsperspektief oor vooruitsigte vir die landboubedryf.

Links na regs: Gideon Van Zyl (Voorsitte Agri NW Jongboerkomitee),
Ro’an Van Tonder (2017-Jongboer Van Die Jaar Wenner),
Anneli Lerm (Toyota SA Hoofborg Van Die Nasionale Jongboer Van Die Jaarkompetisie),
Pierre Vercueil (President Agri NW)
Links na regs: Louis Wessels (Finalis: Agri Mareetsane),
Ro’an van Tonder (2017-Agri NW Jongboer van die Jaar Wenner: Agri Potchefstroom),
Callie Buitendag (Santam Landbou: hoofborg van die dinee en jongboerkompetisie),
Herman du Preez (Finalis: Agri Klippan)
Links na regs: 2017-Jonboer Van Die Jaar, Miguet Van Tonder (Gade),
Ro’an Van Tonder (2017-Jongboer Van Die Jaar Wenner),
Callie Buitendag (Santam Landbou Hoofborg Van Die Dinee en Jongboerkompetisie)
Links na regs: Boeta du Toit (Uitvoerende Hoofbestuurder Agri NW),
Magnus Theunissen (Voormalige Voorsitter Agri NW Jongboerkomitee),
Gideon van Zyl (Voorsitter Agri NW Jongboerkomitee),
Pierre Vercueil (President Agri NW)
Theo Rabe, waarnemende besturende direkteur van NWK Beperk het tydens sy groeteboodskap gesê dat van NWK-kant af wil hulle elke jong boer die versekering gee dat NWK hulle belange op die hart dra en dat hul terdeë bewus is van die uitdagings waarvoor vandag se jong boere te staan kom. In sy groeteboodskap het Pierre Vercueil, president van Agri NW gesê dat radikale transformasie met reg deur boere as 'n bedreiging beskou word en dat die onduidelikhede wat daarin opgesluit lê 'n negatiewe impak het op sakevertroue. Die voorsitter van die Jongboerkomitee, Gideon van Zyl het jong boere versoek om betrokke te raak by die organisasie en deel te raak van die oplossing waarop Boeta du Toit, uitvoerende hoofbestuurder van Agri NW jong boere daarop gewys het dat gefokusde deelname deur jong boere van groot belang is vir die organisasie.
Die verkiesing van die Jongboerkomitee se vise-voorsitter is tydens die konferensie behartig. Mnr. Louis Wessels van Agri Mareetsane is onbestrede verkies tot vise-voorsitter van die komitee.
Tydens 'n glans dinee die vorige aand, wat geborg is deur Santam Landbou, is Agri NW Jongboerkomitee se 2017-Jongboer van die Jaar aangewys. Ro’an van Tonder van Agri Potchefstroom, is aangewys as die wenner en dring dus outomaties deur as 'n finalis na Toyota SA se Nasionale Jongboer van die Jaarkompetisie. Die ander finaliste in die jong boer van die jaarkompetisie was Herman du Preez van die plaas Gruisfontein in die Lichtenburg-distrik en Louis Wessels van die plaas Vryhof in die Mareetsane-distrik. Magnus Theunissen, voormalige voorsitter van die Jongboerkomitee is ook tydens die geleentheid vereer met 'n oorkonde vir sy uitnemende bydrae en toewyding tot die komitee.
Agri NW Jongboerkomitee bedank graag al die borge vir hulle lojale en volgehoue ondersteuning aan die komitee. Hulle bydraes het weereens verseker dat die konferensie 'n groot sukses was.
Vir verdere navrae of besprekings kontak:
Mnr. P du Toit
Tel. Nr.: 018 632 2987/3612/3624
E-pos adres: wanda@agrinw.co.za / marlize@agrinw.co.za
Uitgereik deur:
Agri NW Korporatiewe Skakeling