Burgerlike samelewings-diensorganisasie

Agri SA se Landelike Beveiligingskomitee het gister met ‘n hoëvlak polisie afvaardiging en ander verteenwoordigers van die land se veiligheidsmagte indringende gesprekke gevoer en beplanning gedoen oor verskeie landelike veiligheidsaspekte wat die veiligheid van die boerderygemeenskap bedreig. “Ons het waardering vir die polisie se betrokkenheid en die erns waarmee hulle die landbougemeenskap se veiligheid hanteer”, sê Johannes Möller, president van Agri SA.

Die onbevredigende situasie rakende plaasaanvalle en -moorde wat ernstige gevolge vir die boerderygemeenskap inhou, het spesifiek aandag geniet. Die Komitee het gemaan dat plaasaanval en -moordstatistieke versigtig gebruik moet word om nie emosies onnodig op te jaag nie. “Die verkeerde gebruik van statistiek lei tot onrustigheid by die landbougemeenskap. ‘n Ontleding van die onlangse plaasmoordstatistiek wat in die media gerapporteer is, toon dat van die moorde, volgens die definisie van ‘n plaasaanval, nie ‘n plaasmoord was nie. Die voorkoms van plaasmoorde die afgelope tyd spreek boekdele van die volgehoue misdaadaanslag op boere, plaaswerkers en hulle gesinne, wat uiteraard ook Suid-Afrika se strewe na voedselsekerheid en ‘n stabiele landelike gebied benadeel”, sê Möller.

Die grondbesettingsuitsprake wat uit verskeie oorde gepropageer word en ook die naweek in die media gerapporteer is, is ten sterkste deur die komitee veroordeel en het ‘n hoë prioriteit tydens die vergadering geniet. Volgens Möller verwerp Agri SA ten sterkste alle uitsprake oor die besetting van landbougrond en aansprake dat boere hulle grond op ‘n onregmatige wyse bekom het en dit daarom geregverdig sou wees om die grond te beset en terug te neem. Gebeurlikheidsbeplanning om die optrede teen te staan, is gister bespreek en provinsiale organisasies is versoek om dit tot op plaaslike vlak deur te voer.

Die komitee het bevestig dat Agri SA se inligtingsdokument oor die hantering van grondbesettings wat oor jare aangepas is, die implementering van sy protokol vir toegang tot plase en deurlopende skakeling met die plaaslike polisie aspekte is wat op plaaslike vlak toegepas moet word. Bestaande polisiebeleid en prosedures oor die hantering van betreding- en grondbesettingsklagtes, is gister weereens bevestig en ‘n beroep is op die polisie gedoen om plattelandse polisiestasies te sensiteer, rakende die implementering daarvan op plaaslike vlak.

Ten slotte sê Möller dat die Agri Securitas Trustfonds daar gestel is om aanvullende bydraes te maak op boereverenigingvlak om die gemeenskappe te help om hulle eie veiligheid te verbeter. Verskeie landelike beveiligingsprojekte is al gefinansier deur die Trustfonds, wat bygedra het om die boerderygemeenskap te beveilig. Agri SA se provinsiale organisasies speel ‘n belangrike rol in die evaluering van die versoeke en navrae oor die benutting van fondse kan aan die organisasies gerig word.

Uitgereik deur Agri SA, Direktoraat: Korporatiewe Skakeling

 

Navrae

Mnr Johannes Möller, President Agri SA, 082 647 8481
Mnr Kobus Breytenbach, Voorsitter van Agri SA se Beleidskomitee oor Landelike Veiligheid, 083 631 6844
Mnr Kobus Visser, Direkteur: Korporatiewe Skakeling, Agri SA, 012-643 3400 of 082 388 0010