Burgerlike samelewings-diensorganisasie

“Die tyd het aangebreek dat radikalisme in al sy vorme in Suid-Afrika uitgeroei word en landsburgers die vryheid wat die Grondwet bied in ‘n gederadikaliseerde samelewing kan ervaar. Die afgelope tyd is daar in die media kennis geneem van verskeie rassistiese voorvalle wat nie nasiebou bevorder nie, maar eerder gemeenskappe van mekaar verwyder”, sê Johannes Möller, president van Agri SA.

“Ons land en sy mense het ‘n samelewing nodig waar hulle reg op lewe gerespekteer en almal ewe belangrik geag word. Ek doen vandag ‘n beroep op alle Suid-Afrikaners om geweldsmisdaad en rassisme in alle vorme te veroordeel en in gemeenskapsverband na mekaar uit te reik en van die land ‘n beter plek te maak waar almal in vrede en verdraagsaamheid kan saamleef, sê Möller”.

Lede van die landbougemeenskap het die afgelope ruk ook nie ontsnap van gewelddadige optrede, soos plaasaanvalle en opruiende uitsprake oor grondbesetting nie. Daagliks word in die media gerapporteer van geweld wat teenoor mede-landsburgers gepleeg word en die gepaardgaande trauma wat slagoffers moet ervaar. Hierdie optredes het nie plek in ‘n demokratiese land, waar menseregte ‘n hoë prioriteit behoort te geniet. Leiers in die samelewing het ‘n verantwoordelikheid om saam te staan en ‘n klimaat van verdraagsaamheid te skep en geweld in al sy vorme te veroordeel.

Die landbou bly een van die land se bates en behoort ontwikkel te word as ‘n aantreklike beroep vir jong toetreders. Dit kan slegs moontlik wees indien boere en plaaswerkers hul beroep in veiligheid kan beoefen en waar radikalisme nie ‘n plek het nie.

“Dit is reg dat die Minister van Polisie vorme van radikalisme veroordeel, maar ons vind dit vreemd dat hy nie die wreedaardige moorde en aanrandings op lede van die boeregemeenskap veroordeel nie”, sê Möller.

‘n Beroep word ook gedoen op leiers om hulle te weerhou van opruiende- en ekstremistiese uitsprake wat kan aanleiding gee tot geweld teen die boerderygemeenskap. Uitsprake van hierdie aard gaan gewoonlik met emosie gepaard wat lei tot die vorming van verkeerde persepsies van mense en wat rassistiese optrede kan bevorder.

Daar moet daarop gelet word dat ‘n misdadige element oral in samelewings teenwoordig is en dat opruiende uitsprake vir hulle as motivering kan dien om ‘n misdaad te pleeg. Daar rus dus ‘n groot verantwoordelikheid op alle leiers om met sorgsaamheid uitsprake te maak en nie ondersteuners aanmoedig om gewelddadig op te tree nie.


Uitgereik deur Agri SA, Direktoraat: Korporatiewe Skakeling

Navrae

Mnr Johannes Möller, President Agri SA, 082 647 8481

Mnr Omri van Zyl, Uitvoerende Direkteur, Agri SA, 012-643 3400 of 082 417 5724