Geldelike hulp vir misdaadvoorkoming
Uitgereik deur Agri SA, Direktoraat: Korporatiewe Skakeling.
Die kwesbaarheid van boere- en plaaswerkers vir algemene misdadigheid verg aanvullende beveiligingsmaatreëls. Gemeenskappe van Sneeuberg en Samekomst in die Oos-Kaap en Heilbron in die Vrystaat het besluit om hulle eie maatreëls inwerking te stel met die geldelike ondersteuning van die Agri Securitas Trustfonds.
Ongeveer 400 boere en 3400 plaaswerkers en hulle afhanklikes sal veiliger kan werk en woon. Dit volg nadat ‘n kommunikasienetwerk in die Sneeuberg-gebied en ‘n kameranetwerk en veiligheidshek in die Samekomst gebied inwerking gestel is. In die Heilbron gebied in die Vrystaat, sal radio’s ingespan word vir verbeterde kommunikasie en kameras om toegangroetes te monitor. Die beveiligingsprojekte bevorder ook die oogmerke van die Landelike Beveiligingstrategie, naamlik; die vestiging van stelsels om misdaad in landelike gebiede aan te spreek.
Die gemeenskappe is toenemend blootgestel aan huisrowe, diefstal van vee en plaastoebehore. “Dit bly die strewe van die Trustfonds om met sy geldelike bydraes plaaslike boerderygemeenskappe by te staan om hulle teen misdadigheid te beskerm en hulle kwesbaarheid te verminder. Gebrekkige kommunikasie beperk gemeenskappe se vermoë om beveiligingsoptredes te koördineer en effektief op te tree, in noodsituasies. Kamerastelsels het nie net ‘n afskrikwaarde nie, maar verskaf ook waardevolle inligting oor verdagte voertuie en persone wat ‘n gebied binnegaan. Die inligting word dan aan die polisie beskikbaar gestel vir verdere optrede en misdaadvoorkoming”, sê Japie Grobler, voorsitter van die Agri Securitas Trustfonds.
Boere en plaaswerkers dra by tot die plaaslike ekonomie en saam met die res van die sektor word steeds genoeg en heilsame voedsel geproduseer vir Suid-Afrika se bevolking. Die Trustfonds streef daarom, om met sy geldelike ondersteuning, ‘n veiliger landelike gebied teweeg te bring en om die gemeenskappe te help beskerm as ‘n bate vir die land.
Die Trustfonds kan hierdie taak nie alleen uitvoer nie en daarom word erkenning gegee aan sy strategiese vennote, naamlik; Nissan SA, Vodacom, Sanlam, CrisisOnCall, Sonfin en sy gholfdagborge; GWK, NWK, OFM en Senwes wat met hulle finansiële ondersteuning die werk van die Trustfonds moontlik maak.
Navrae
Japie Grobler, Voorsitter, Agri Securitas Trustfonds, 0828258018
Kobus Visser, Direkteur: Korporatiewe Skakeling, Agri SA, 012-643 3400 of 082 388 0010