Burgerlike samelewings-diensorganisasie

Mediavrystelling: 22 November 2016

Agri NW sal Grondbesettings nie duld nie!

Die onlangse politieke uitsprake, oorlogspraatjies en aanhitsing tot grondbesetting deur die EFF-leierskap word ten sterkte deur Agri NW afgekeur omdat dit uiters onverantwoordelik en strydlustig is. Hierdie uitsprake skep 'n klimaat van wetteloosheid en aggressie by oningeligte ondersteuners wat nie wenslik is vir die skep van vertroue en 'n beleggingsklimaat vir die Landbousektor nie.

Grondeienaars van die Noordwes Provinsie neem kennis van hierdie openlike dreigemente, maar sal hul nie hierdeur laat afskrik of intimideer nie.

Agri NW sal inteendeel nie huiwer om, in ooreenstemming met ons grondwetlike regte en binne die Wetlike raamwerk, die landbougemeenskap te mobiliseer om grondbesettings teen te staan en om eiendom en lewens te beskerm nie.

Hierdie boodskap is ondubbelsinnig deur Agri NW aan die Polisie op Nasionale- en Provinsiale bestuursvlak tydens vergaderings die afgelope week oorgedra.

Boeta du Toit, Uitvoerende Hoofbestuurder van Agri NW, sê dat die Polisie ingelig is dat die landprodusente van die Noordwes Provinsie nie sal terugsit en toekyk hoe hul eiendom bedreig en beset word terwyl die Polisie hul regsplig versaak deur nie onmiddellik binne neergelegde Wetlike prosedure teen betreders op te tree nie.

"Agri NW soek nie konflik en konfrontasie nie maar sal nie daarvoor terugdeins of mense onbeskermd laat indien die Polisie nie die nodige beskerming verleen en gepaste optrede neem in ooreenstemming met die toepaslike Wetgewing en neergelegde Polisie-instruksies nie".

"Grondbesetters sal hul vasloop teen 'n formidabele en vasbeslote opponent wat hul nog nie in die verlede teëgekom het nie".

Dit volg op die onlangse gebeure by Majakaneng naby Marikana en Rustenburg waar voornemende grondbesetters plaaseiendomme betree het en die Polisie hulle nie volgens die neergelegde prosedure vir betreding gearresteer het nie. Hierdie versuim deur die Polisie het uiteindelik daartoe gelei dat die grondeienaar verplig was om 'n uitsettingsbevel te kry teen 'n koste van R250 000. Verder moes die Balju en 'n sekuriteitsmaatskappy betaal word om die besetters te verwyder. In die tussentyd is ses ander plase betree om beset te word, omdat die Polisie nie die betredingsklagtes wou aanvaar nie en nie ferm genoeg opgetree het in die eerste betredingsgeval nie.

Na die eerste uitsettingsbevel uitgevoer is, het die ander betreders die aftog geblaas, maar nie voordat die geaffekteerde grondeienaars ook 'n uitsettingsbevel teen groot koste moes verkry nie.

Hierdie gebeure is aan die Nasionale Waarnemende Kommissaris van die Polisie gerapporteer en die optrede van die Polisie word nou indringend ondersoek om die korrekte optrede te herbevestig.

"Ons verwag niks meer of minder van die Polisie as om hul regsplig volgens die letter van die Wet uit te voer nie" – aldus du Toit.

Alle grondaansprake en behoeftes vir behuising of landbou, moet streng volgens die Grondwetlike bepalings en onderliggende Wetgewing plaasvind. Dit is Agri NW se onwrikbare standpunt dat grondhervorming op 'n deursigtige, regverdige en wetlike wyse moet plaasvind en dat billike markwaardes vir grond betaal moet word.

Enige afwyking hiervan sal deur Agri NW met alle middele tot sy beskikking teengestaan word om te verseker dat geregtigheid geskied.

Grondeienaars word aangemoedig om by Agri NW se Landbouverenigings aan te sluit en hul te vergewis van die korrekte prosedures vir die hantering van 'n plaasbesettingsvoorval.

Uitgereik deur:

Agri NW Korporatiewe Skakeling

Navrae:

Boeta du Toit

Uitvoerende Hoofbestuurder

Agri NW

Telefonies: 082 388 1722

E-pos: wanda@agrinw.co.za